Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om lig te bring

Lees Lukas 1:76-79.

“Soos die môreson sal Hy opgaan … om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe” (v 78-79).

Ou priester Sagaria rig hom in sy loflied nou tot sy babaseun, wat die Verlosser se pad gereed sal maak.

Padmakers is begenadigde mense, dit het ons reeds vasgestel. Nee, hulle kry nie altyd die erkenning wat hulle toekom nie, maar die Een aan wie al die lof en aanbidding behoort, Hý weet. En Hy sal vir die padmakers sorg, want Hy heet Ligbringer. Duisternis­verdrywer. Doodvertrapper.

Hoe salig is dit om te weet dat jy, ’n stofopskoppertjie op sy beste, kan bydra tot die hoop wat die verskil in ander mense se lewe maak. Wat ’n voorreg om deel te mag wees van die beweging van Lig in die wêreld!

Want dit is wat eenvoudige dienaars van die ontfermende God is, hierdie gelykmakers van sy genadepad. Hulle is heenwysers na die helder son, al word dit ’n oomblik agter donker wolke verberg. Hulle is verkondigers van genesing vir dié wat in ’n dodelike stryd gewikkel is. Hulle teken padkaarte van die roete wat na vrede lei.

Nee, hulle is nie altyd skynende voorbeelde van die verkondig­de Lig nie, en hulle gee nie altyd die gesondste raad nie. Daarby sê en doen hulle soms dinge wat allesbehalwe die vrede dien. Maar ten minste weet hulle wanneer hulle oortree het, wanneer hulle nie hul opdrag na behore nagekom en hul bevoorregting benut of genoegsaam geëer het nie. Dan gaan skuil hulle by Hom, vir wie hulle in die steek gelaat het.

Want Hy is ook húl Lig, en sal dit altyd wees. Ten spyte van …

U teenwoordigheid verdryf die donkerte, Here. Ook wanneer dit op my toesak.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.