Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Begin én eindig

Lees Filippense 1:3-6.

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer (v 6).

Paulus se brief wat hy uit die tronk aan die gemeente in Filippi skryf, begin sommer met, van alle dinge, dankbaarheid en blydskap.

Hier is geen klaaglied, geen verontskuldiging, geen sprake van selfbejammering nie. Selfs nie eens ’n onmiddellike verwysing na sy gevangenskap nie – dié sou eers later en sommer in die verbygaan genoem word. Dit is van begin tot einde ’n dank-en­-bly-wees-brief dié.

’n Vername rede hiervoor is Paulus se vaste oortuiging dat God klaarmaak wat Hy begin het, juis “die goeie werk in julle” (v 6). Vanuit sy troostelose posisie bemoedig Paulus die gemeente met sy sekerheid oor God en sy goeie werk.

Wat sal ons nie gee vir ’n Paulus-oortuiging in ons lewe nie! Vir die vaste wete dat God ook in óns nie halwe werk gedoen het nie. Dat Hy ons beslis nie so-gemaak-en-so-laat-staan het nie. Dat Hy steeds met ons besig is, en besig sal bly, tot met die weerkoms.

As ons tog net daarvan seker kan wees, dan sal ons ook weet dat ons tot die einde sal volhard. Dat al die aanslae ons nie sal onderkry nie. Dat die Bose nie tog sal wen nie.

Ag, maar dalk is dit goed dat ons nie met soveel sekerhede rondloop nie. Dit verlei ons straks om te dink dat dit óns is wat so getrou, so volhardend, so oorwinnend is. Dat ons vergeet dat Paulus se dank en blydskap volledig berus op die werk wat God in ons doen. Daardie enigste vaste oortuiging wat ons het en wat ons ooit sal nodig hê.

Van begin tot einde is U my lof ! U is die Alfa en die Omega, ook van my klein wêreldjie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.