Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Keer my!

Lees Filippense 1:7-11.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (v 9-10).

Paulus voeg nou verlange ook by sy dank en blydskap oor die ge­meente in Filippi. En hy herhaal die versekering dat hy vir hulle bid.

’n Mentor soos min! En soos mentors maar is, het hy volop bemoedigende woorde vir hulle. Hy skryf hoe hy na hulle verlang en hy vertel presies waarvoor hy hulle dankbaar is en wat hy vir hulle bid, hierdie gemeente van sy hart.

Hy is dankbaar vir hul medewerking om die evangelie te verkon­dig, sê hy. Hy bid dat hul liefde steeds sal groei – en dat dit spesifiek uitgewys sal word in ’n toename van hul begrip en aanvoeling. En in die onderskeiding van die dinge wat werklik saak maak.

Dit is hiér waar ek Paulus se gebed vir hierdie mense vir my wil toe-eien, hier by die begrip en fyn aanvoeling. By die vermoë om wat saak maak te skei van wat van minder belang is. Want ek sukkel met hierdie dinge, érg. Ek kry dit selde reg om die belangrikste dinge eerste te stel; ek laat my maklik op ’n dwaalspoor lei. Ek luister nie lank genoeg nie, ek maak haastige gevolgtrekkings, ek oordeel gou. Ek het dikwels die sensitiwiteit van ’n buffel.

Ek is vreeslik liggeraak, eintlik kleinserig, maar ek loop kruis en dwars bo-oor ander se teer gevoelens. Ek is besorg oor my geestelike groei, want ek verdrink in kleingeestigheid. Ek maak mense seer, ek weet. Ek skaam my.

Daarom druk ek Paulus se gebed vir Filippi teen my bors. Sodat my hart sag sal word. Plooibaar vir God se vormende vingers.

Keer my voor, Here, wanneer ek so begriploos, so liefdeloos, so óral instorm!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.