Lees Lukas 3:1-6.
Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea … Annas en Kajafas was die hoëpriesters (v 1).
Dit was in daardie tyd dat Johannes, die enigste seun van Sagaria en Elisabet, begin preek en doop het. Terwyl die wêreld sy wêreldse dinge gedoen en die regeerders geregeer en die hoëpriesters hul hoë amp beklee het, het ’n jong man in die woestyngebiede aan die Jordaanrivier uitgeroep: Bekeer julle!
Ons weet baie mense sou na hom toe kom, hulle sou sy vurige boodskap aangryp en hy sou hulle doop. Ons weet ook daar was baie ander, juis uit die hoëlui, wat sou sê hy is van die duiwel besete.
Veral weet ons hierdie Johannes sou die wegbereider vir Jesus van Nasaret wees. Die profeet Jesaja het dit reeds geweet.
Só word die betekenisvolste drie jaar in menseheugenis ingelui – in die tyd toe Tiberius gereken het hy swaai die septer oor die wêreld, en Pilatus en Herodes en Annas en Kajafas knus in hul onderskeie klein hoekies gekonkel het en elkeen op sy eie bedompige mishoop koning gekraai het. Sou hulle onder die mense gewees het wat die verlossing sien kom het, soos Jesaja dit voorspel het?
Onwaarskynlik, want deur die eeue was konings te kleinsielig om ’n groot Koning te herken, en hoëpriesters te bekrompe om die hoogste Priester te eer. Daarom sou Johannes se doopdienste bloot by die gewone mense aanklank vind. By dié wat ’n oase in hul woestyn gesoek het. Hulle wat geweet het hoe nodig dit is om aan hovaardige heersers te ontsnap. Hulle wat na ’n ander soort heerskappy gesmag het.
U, Here Jesus, het alles kom nuut maak. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Halleluja!
Barend Vos