Lees Sefanja 3:14-17.
Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou (v 17).
Wanneer dinge ten goede verander en almal eensklaps vrolik raak, wanneer die hande wat eens moedeloos gehang het hoog gelig word, dán kan jy maar weet wie jy daarvoor moet bedank – Hy.
Hy, die Here ons God, spesialiseer in die verlossing van die bevreesdes, in die vertroosting van die treurendes en die opheffing van die terneergedruktes. En die beste van alles? Hy doen dit nie teësinnig nie. Inteendeel: Sy liefde spreek altyd die laaste woord. Die Bose se besware ten spyt. Ons ontwyking bring Hom nie op ’n dwaalspoor nie. Én, hoor hier: Ook sy bestraffing word deur hierdie liefde oorskadu. Kan jy nou meer!
God se liefde is sonder twyfel die sterkste krag wat aan ons bekend is. Gelowiges weet dat dit nog altyd so was – in Ou Israel en sy ellendige ballingskapgeskiedenis, en in enige ander hartseerstorie. En, nee, Hy verdryf nie bloot die hartseer nie; Hy bring blydskap. Hy is die Bron van alle vreugde, die Stigter van stil-tevredenheid, die Outeur van jubel en juig.
Hy, sal ons-van-die-nuwe-bedeling weet, is ook die Gewer van sy Liefdeskind. Ons nader juis in dié tyd die herdenking van sy grootste Gawe se koms na ons toe. Op daardie feesdag, en in die dae en weke wat daarheen lei, vergaap ons ons opnuut aan al die vreugde. Sit ons stil-tevrede en verkyk ons aan die jongeres se opgewondenheid. En wanneer hulle ons nader roep, gaan jubel en juig ons saam.
Daar is geen twyfel oor wie al die lof, aanbidding en dankbaarheid hiervoor moet kry nie. Dit is Hy.
U is ons lof, Here God! U wat U met liefde aan ons verbind het.
Barend Vos