Lees Jesaja 12:2-6.
“Jubel en juig … want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!” (v 6).
Dit is sekerlik die kortste hoofstuk in die Bybel se profetebundel, dié ses verse. Maar dit is ook ’n loflied – en wie het gesê lof moet lank wees? Hoeveel keer kan jy “halleluja!” sê voordat dit ’n ydele herhaling van woorde word, en wie wil tog “jubel en juig” soos ’n ellelange toespraak of ’n swak voorbereide preek laat klink?
Nee, lof is ’n drieletterwoord, kort en kragtig. Daar is geen wydlopige versiering hier nie. Dit is ’n onmiddellike omskrywing van ’n gelowige se lewe, en nooit ’n oppervlakkige of opportunistiese gedruis nie. Lof is hoofsaaklik tot God gerig, en is nie in die eerste plek vir ander se ore bedoel nie. Toehoorders van my lof moet “God” hoor, en nie “ek” nie.
Want, sê die profeet, hierdie lofliedskrywer – dit is God wat groot is. Dit is sy Naam wat aangeroep, verkondig en besing moet word. Dit is Hy wat die reddingsdade verrig het wat aan die hele wêreld verkondig moet word. Dit is Hy wat by sy kinders is.
Hier is nie ’n woord oor die lofsangers se godsvrug nie. Allesbehalwe. Die Here se goedheid gebeur ten spyte van hul oortredings; die uitkoms kom nadat hulle drooggemaak het. Daar is geen rede vir selfverheffing en self-op-die-skouer-klop nie. Net diepe dankbaarheid en uitbundige vreugde voor God.
Hoe anders is dit nie as óns jubel en juig nie! Hoe groot is die gevaar tog dat “praise and worship” die klem uiteindelik volledig op die lofprysers en aanbidders plaas – hul musiekmakery, hul aanbiddingswoorde, hul liggaamshouding en handbewegings.
En die Here aan wie al die lof toekom? Hy staan eenkant. Hart-seer omdat sy kinders ook die lof aan Hom gekaap het.
Halleluja! U goedheid slaan my stom.
Barend Vos