Lees Filippense 4:4-7.
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (v 4).
Hoekom sou Paulus dit nodig vind om sy aanmoediging tot blydskap te herhaal? Hoekom sou dit hoegenaamd nodig wees om mense aan te spoor om bly te wees? Kom blydskap dan nie vanself nie?
Boonop skryf Paulus klaarblyklik uit die tronk, én, sê hulle wat getel het, die woord “blydskap” kom in verskeie vorme nie minder nie as sestien keer in dié vier hoofstukke voor. Hy druk dit behoorlik op sy lesers se hart.
Dan wei hy boonop uitvoerig uit oor hierdie blydskapopdrag: Waaroor hulle alles moet bly wees, hoe hul blydskap in hul optrede teenoor “alle mense” (v 5) moet lyk, hoe blydskap hul algemene lewensingesteldheid moet beïnvloed. En, les bes, wat die gevolge van hierdie blydskap sal wees.
Dit is ’n betekenisvolle en veelgeliefde klompie verse dié. Dit word graag gelees en voorgelees, aangehaal en uitgestal. Maar steeds, tot vandag toe, ondervind Paulus probleme om sy lesers te oortuig. Hy sukkel klaarblyklik om ons kop gelig te kry. Ons blydskap geskied dikwels binnensmonds en dit hou ook nie juis lank nie. Ons vind altyd ’n rede om te begin frons.
En dit terwyl hierdie vol, ryk Skrifgedeelte ons leer dat blydskap by voorbaat kan dankie sê. Dat nie net ons behoeftes nie, maar ook ons begeertes by God ’n goeie adres vind. Dat oorweldigende vrede die plek van besorgdheid in ons hart en gedagtes inneem.
Wat wil ons nóg hê voordat ons bly word? Waarom moet Paulus ook vir óns soebat om ’n slag dankbaar te wees? Ag, en wat sal dit nie vir ons getuienis as gelowiges beteken as ons begin leer om te lag oor die dag wat kom nie? Oor die Here wat naby is nie?
Leer my, Here, om te lag. Herinner my elke dag aan my voorregte.
Barend Vos