Boodskap vir Vandag

Search

“Julle slange …”

Lees Lukas 3:7-9.

“En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek” (v 8).

Johannes die Doper het nie ’n wag voor sy mond nie. Hy gebruik selfs die groot aantal doopgeleenthede om sy spesifieke vuur-en­-swael-preke op die aanwesiges los te laat. Dit is almal in die trant van ’n dreigende toorn, die byl wat gereed staan en van uitkap en in die vuur gooi.

Hier het hy boonop die voorvaders beet. Eintlik hul nasate, wat so op hul afkoms roem. ’n Gevaarlike onderwerp dié, nou nog …

Maar wat gee hy om? Vergeet van Abraham! skreeu die Doper op sy toehoorders. Hy en sy kinders en kindskinders is óú stories wat julle niks in die sak bring nie. Julle kan nie vir God bluf nie! Buitendien kan Hy vir Hom kinders uit klippe maak. Dit gaan nie nou meer oor húl geskiedkundige geloofsheldedade nie; dit gaan oor júl hedendaagse geloofsmisdade, julle slange!

Só raas en blaas hy, hierdie Doper, hierdie Godaangestelde pad-maker vir die Gesalfde. So maak hy die pad met mening en met drif skoon. Wanneer die Christus sy voet op hierdie pad sit, sal almal weet waar hulle ook met Hom staan: Afkoms tel niks. Indien enig­iets, tel dit straks teen jou wanneer jy dit as skans, as alibi, gebruik.

Hulle teen wie die Doper so uitgevaar het, daardie “slange”, het swaar hieraan gesluk. Soos hulle ook aan Jesus Christus se boodskap erge aanstoot geneem het. Mense hou ten ene male nie daarvan as hul skynheiligheid ontbloot word nie. Of hul sieklike beheptheid met hul geskiedenis bevraagteken word nie.

Here, ek dank U vir my voorvaders en hul rol in my geloof. Leer my om hierdie dankbaarheid elke dag in koninkryksdade te omskep.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.