Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wat moet ek doen?

Lees Lukas 3:10-14.

Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” (v 10).

Die Doper se tirades het die mense laat skrik. Een na die ander wil weet wat hulle te doen staan, en vir elkeen het Johannes raad: Gaan deel wat julle het, moenie ander mense uitbuit nie, moenie steel of afpers nie, wees tevrede met wat jy het.

Prakties, eenvoudig, op die man af. Elkeen ontvang ’n opdrag wat in sy of haar leefwêreld pas. Wat heeltemal haalbaar is. Niemand word voor onmoontlike eise gestel nie. Die koninkryk het naby gekom, en die Koning vra nie engeltjies om dit te bevolk nie; Hy roep vlees-en-bloed-mense. Maar dan mense wat dinge doen wat by koninkrykskinders pas. Wat afgesien het van dié dinge wat nie pas nie.

Die koninkryk se eise was nog nooit hoog nie, tensy eerlikheid as hoog beskou word. En mededeelsaamheid en integriteit en te­vredenheid. Net die Koning self woon in die hoogtes; sy kinders is hier plaaslik, hier tussen ander mense wat soos hulle is. Hier waar daar nie rangordes en trappe van vergelyking geld nie. Wat jy is, is net genade, en wat jy het, is aan jou gegee met die opdrag om dit verder aan te gee.

Ook diegene wat die een of ander gesagsposisie beklee, mag dit nie misbruik nie. Hulle is nie bo die res verhewe nie. Inteendeel: Die Koning sal hulle later leer dat voorlopers geroep word om hul volgelinge te dra. Dat leierskap nie status beteken nie, maar jou ’n voorskoot besorg.

Johannes die wegbereider praat reeds die taal van die Koning wat kom. Hoor hulle hom? Sal hulle die Koning hoor? Hom ver­staan? Sal hulle Hom wil gehoorsaam?

Ek hoor op soveel maniere hoe dit in u koninkryk werk, Here. Dink U dat ek ooit sal doen wat U van my vra?

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.