Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sy krag, sy Naam

Lees Miga 5:2-5a.

Hy sal … sy volk lei deur die krag wat die Here hom gee, deur die sterkte van die Naam van die Here (v 3).

Die skrifgeleerdes en priesterhoofde sou baie jare later uit hierdie einste Miga-hoofstuk aanhaal toe hulle Herodes in die oë moes kyk oor die “koning van die Jode” wat in Betlehem gebore is (Matt 2:1-6).

Jesus Christus se koms na hierdie wêreld was nie vir almal goeie nuus nie – dit sou die latere optrede van die Joodse godsdienstige elite herhaaldelik uitwys. Vir die sukkelende volkie wat in Miga se tyd uitsigloos en desperaat op goeie tyding gewag het, was die profeet se voorspelling oor ’n sterk leier wat in die Here se krag sal regeer egter soos ’n oase in ’n droë woestyn. Die vrede wat hy sou bring, die sorg wat hy vir die land se verdediging teen Assirië aan die dag sou lê, was soos salwende musiek in hul ore.

Tot vandag vind hierdie stukkie Israelgeskiedenis weerklank in Christengelowiges se lewe. Juis hierdie tyd van die jaar het hulle nodig om te weet dat uitsigloosheid nooit die laaste woord in hul God se omgewing spreek nie. Dat Kersfees se vrolikheid nooit van verbygaande aard kan wees nie, maar ’n durende viering van God se betrokkenheid by sy kinders is.

Die Here weet hoe nodig ons die hoop het wat Hy gee. Hy weet dat sy krag en sy Naam die enigste moontlikheid is wat ons deur dor tye dra. Dat vyandighede van buite én aanslae van binne slegs deur Hom afgeweer kan word.

In ’n tyd soos dié vertrou God se kinders volledig op die Draer van sy Naam, die Gewer van sy krag, die Bringer van sy hoop.

Hoe geseënd is ons nie, Here Jesus! U is die enkele rede vir ons fees.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.