Lees Lukas 1:46-55.
“… omdat Hy na my in my geringheid omgesien het … omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het” (v 48-49).
Maria se loflied is waarskynlik een van die geestelike liedere wat steeds die meeste gesing word, wêreldwyd, en deur feitlik elke Christelike tradisie. Magnificat, heet dié lied in Latyn. “Ek maak groot” … die Here se Naam.
Deurlopend is dít die lof: Hy is groot, Hy is magtig, Hy is heilig, Hy ontferm, Hy is kragtig, Hy help, Hy onthou.
Volop rede om sy Naam groot te maak, of hoe? Veral dan deur kleintjies, geringes, behoeftiges. Hulle wat in hul geestesoog sien hoe die Here hoogmoediges uitmekaarjaag, hoe Hy maghebbers van trone afruk en rykes met leë hande wegstuur. Hulle wat weet dat Hy al sy beloftes hou.
Die Here se magtige ingryping in hierdie jong meisie se lewe is ’n oorwinning vir elke randfiguur, elke verskopte en uitgeskopte mens. Almal wat al ooit gering geag en oor die hoof gesien is, kan dié lied aangryp en uit volle bors saamsing.
Ook ék kan my bewerige stemmetjie by hierdie loflied voeg. Die Here moet my asseblief maar die Schadenfreude vergewe, die dat ek my so in die vooraanstaandes se verleentheid verlekker. Kry vir julle! wil ek sê – en onmiddellik skaam ek my vir my sondige leedvermaak. Ek is wel bitter dankbaar dat ek my nie in húl spoggerige skoene bevind nie. Ek vergeet nooit dat die groot dinge wat Hy aan my gedoen het, louter genade is nie.
Hoe Hy my – van almal! – uitgekies het om sy Naam groot te maak, gaan my verstand te bowe. Maar hier is ek! Uitverkorene, begenadigde. En hoor my as ek sing: Heilig is sy Naam!
Manjifieke Here, u ontferming laat my lewe. Leer my liefhê, U ter ere.
Barend Vos