Lees Psalm 97.
Sy weerligstrale verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe (v 4).
Hoe begenadig is diegene wat die Here kan raaksien! Hoe bevoorreg hulle wat selfs deur die donkerste wolke sy onmiskenbare teenwoordigheid kan bespeur.
Maar is dit dan nie net vir enkele ingewydes bestem, vir dié wie se geloofsoë spesiaal daarvoor toegerus is nie? Geskied God se sigbaarheid nie op uitnodiging nie? Slegs vir hulle wat aan die nodige vroomheidvereistes voldoen nie?
Nie as jy hierdie psalmdigter wil glo nie. Hy sê, uitvoerige beeldspraak en al, dat almal wat oë in hul kop het, kan sien waar Hy werk, “al die volke sien sy magtige verskyning” (v 6).
Ook mense soos ons. Want net gister nog het die vonke van sy teenwoordigheid oor die hele wêreld gespat, en vandag leef almal in die nagloed daarvan. Ons proe-proe steeds aan die fees se oorblyfsels, die wysies bly draal in ons kop, ons sal lank op die herinnerings teer. Is daar dan iemand wat kan sê dit alles het by hom of haar verbygegaan?
Ja, wié kan sê: “Ek het niks gesien nie!”? Wie kan ontken dat die Lig die duisternis verdring het, sigbaar vir almal? Al was daar ook dié wat onverhoeds betrap is omdat hulle nie hul kop betyds weggedraai het nie? Is daar iemand so stiksienig soos ’n sinikus? Moedswilliger as ’n gewoonteklaer? En wat is bejammerenswaardiger as blinde ongeloof?
Dankie tog vir die vermoë om Kersfees te kan geniet. Vir die geleentheid om in God se stralende teenwoordigheid te mag mens wees.
Ek het U gister gesien, Here – in die oë van elke kind, in die hande van die grootmense. Vandag helder u nabyheid steeds my lewe op.
Barend Vos