Lees Titus 3:4-7.
Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn (v 4).
Daar is nie baie Bybelgedeeltes wat in enkele verse ’n feitlik volledige opsomming van die goeie nuus bied wat Jesus Christus gebring het nie. Daarvoor is hierdie evangelie eenvoudig te omvattend, en verskillende Bybelskrywers verkies om met ’n omhaal van woorde te verduidelik presies hoe goed die nuus nou eintlik is.
In hierdie vier Titusverse vind ons egter wel die evangelie in die spreekwoordelike neutedop. Heel gepas begin dié goue gedeelte met die Goddelike “maar”, daardie taalkundige aanduiding van God se allergenadige ingrype in ’n mens se lewe. En soos dit hoort, trek hierdie “maar” die sluise oop: Van hier af is dit net én, én, én …
Dit is ’n opwindende opeenstapeling van al God se weldade wat Hy aan sy kinders bewys: verlossing vanweë sy ontferming, én die skenking van die weergeboorte wat die sonde afwas, én die gawe van die Heilige Gees met die nuwe lewe wat Hy bring, én die bemaking van die ewige lewe.
Opvallend, heuglik, onderstreep Paulus tussendeur dat die verlossing nie die loon vir ons goedheid is nie. Dat die Heilige Gees nie skoorvoetend na ons toe gekom het nie. Dat die vryspraak deur genade na ons toe aangedra is.
Sjoe, dit klink kompleet asof Kersfees weer gekom het! Hierdie geskenk verras my elke keer. Dit pas my soos ’n jas wat spesiaal vir my gemaak is, soos skoene wat vir my ontwerp is, soos ’n syserp met my naam daarop geborduur. Dit help my onthou dat dit vir God se kinders elke dag Kersfees is.
Ek verheug my, liewe Here, aan hierdie pakkie vol genade, barmhartigheid en vrede wat U vandag vir my kom oopmaak het. Ek is skatryk!
Barend Vos