Lees Hebreërs 1:1-4.
In hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun … Hy is die ewebeeld van die wese van God (v 2-3).
Hoe lyk God?
Mense wou dit nog altyd weet. Daar is diegene wat ernstig hieroor is, selfs desperaat, omdat hulle reken dat Hy hulle antwoorde skuld. Hulle het onafgehandelde sake wat hulle met Hom wil uitklaar. Éintlik wil hulle ook weet: Waar kry ek Hom in die hande?
Toe Christus daardie eerste Kersfees gekom het, het hulle hul sin gekry. Sou hulle dit weet? Jesus het tog reguit vir Filippus, een van sy destydse volgelinge, gesê: “Wie My sien, sien die Vader.” En: “Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My …” (Joh 14:9, 11).
Daar is wel ook diegene wat die “hoe”- en “waar”-vrae met ’n spottende trek om die mond vra. Dit is nie net hedendaagse ongelowiges nie; dit kom reeds uit die psalmdigters se dae – kyk onder meer Psalm 42:11. Hierdie mense maak daarop staat dat God nêrens te vinde is nie (Ps 53:2) en grond hul ongebreidelde booshede op dié dwase aanname.
Dan is daar natuurlik ook hulle wat in Hom sien net wat hulle wil sien, waarmee hulle gemaklik is en wat hulle laat goed voel. Alles is klinkklaar! juig hulle. Só en só is God, sonder twyfel! verklaar hulle selfvoldaan. Hulle het geen geduld met die worsteling wat hul medegelowiges voor die dowwe spieël en met die raaiselagtige beeld het nie. Hulle verkleineer die kleingelowiges en die twyfelaars.
Vir hulle almal – die desperate soekers, die selfversekerde gearriveerdes, die brutale ongelowiges – is daar dié eenvoudige raad: Spits jul ore vir God se Woord. Hy verkondig ’n blye boodskap. Dit is hoe jy Hom altyd sal uitken.
Ek hoor U, Here! Wanneer U praat, word ek getroos.
Barend Vos