Lees Johannes 1:1-14.
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien (v 14).
Twee van die vier Evangelies, dié van Matteus en Lukas, vertel uitbundige Kersverhale om die onderskeie vertellings mee af te skop. ’n Derde Evangelieskrywer, Markus, stel bloot die sober feit dat die Jesusverhaal nou gaan begin.
Johannes skryf ’n meditasie. Sommige sê dit is ’n geloofsbelydenis. Of ’n deurdagte vertolking van Jesus se plek in God se plan vir sy wêreld. Hoe ook al, hierdie eerste veertien verse in die Johannesevangelie is ’n kunswerk, niks minder nie – wel sonder ’n sterrekyker of ’n herder of selfs ’n Kindjie-in-’n-krip.
Daar is bloot die uitgebreide stelling dat die Woord wat in die begin reeds daar was, in die volheid van die tyd by sy mense kom woon het. Dat Hy heerlik sigbaar was.
Nie dat almal wou kyk nie … Daar was mos dié wat gesien het en tog nie gesien het nie. Hulle wat dadelik weggekyk het, onder meer omdat hulle Hom anders wou gehad het. Ag, en dalk omdat die lig wat in Hom was vir hulle te helder was, té ontblotend. Ironies genoeg was dit sy eie mense wat Hom nie in die oë wou kyk nie, wat nie die sagtheid daarin wou raaksien nie.
Goddank dat Hy Hom nie teruggetrek het nie, dat Hy nie sy menswees-tussen-mense versaak het nie. Dat Hy Hom tot mense soos ons gewend het.
Minder as ’n week gelede het ons weer dié heerlikheid aanskou, vol genade en waarheid. Wie sou dit wou waag om weg te kyk? Wie sou ná die aanvanklike knip van die oë nié hierdie Woord, hierdie Mens, omhels nie?
U het na my toe gekom! U het my die reg gegee om ’n kind van God genoem te word. Prys die Here!
Barend Vos