Lees Psalm 148
Laat hulle die Naam van die Here prys, want … sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel (v 13).
’n Pryslied om die jaar mee af te sluit, ja! Hoe dan anders?
Ons staan immers op die vooraand van die nuwe jaar, en dit is tog veel beter om juis nou ’n “halleluja!” oor ons lippe te kry as ’n bitter “wee my!” Lofliedere het buitendien hartlike saamsingwysies, en voor ons ons kom kry, versamel ’n hallelujakoor wat die hele wêreld laat dreun: Prys die Here!
Prys die Here! vorm deel van elke dankbare gelowige se woordeskat, maar nie almal kan dit uitbasuin nie. Dit is eenvoudig nie in sommige se aard om uitgelate te leef nie, om luidkeels vir al wat leef en beef te laat verstaan hoe goed God is nie. Nee, hulle is wel terdeë daarvan bewus, hul dankbaarheid is onteenseglik, maar hulle verkies om hul loflied sagter te laat opklink. Hulle is van nature mense wat in alles eerder terughoudend is en wat daarom op ’n meer gedempte toon dankie sê.
Dit is niks om oor verleë te wees nie. Prys die Here! is in alle gevalle ’n meerstemmige loflied. En lof in ’n mineurtoonaard is ook lof. Dit is nie nodig om die aanleer van bruisende, baldadige lofprysing as ’n nuwejaarsvoorneme te hê nie.
Dit is wel allernoodsaaklik vir alle gelowiges, die stilles én die juigendes, om hul dankbaarheid aan die Here te bring – of dit nou huppelend is of kruppelend, jubelend of fluisterend.
Sê dan maar op hierdie Oujaarsdag: Prys die Here vir wat verby is! En voeg dadelik by: Prys die Here vir wat kom!
U het my tot by hierdie dag gebring, Here, en U dra my oor die drumpel van die nuwe dag. Prys die Here!
Barend Vos