Boodskap vir Vandag

Search

Ons ken U

Lees Psalm 10:12-18.

U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed (v 17).

Here, waar kom die goddeloses daaraan
dat U nie omgee nie?
Wie het hulle wysgemaak dat U
u kinders ignoreer?
Is dit omdat hulle U nie ken nie
dat hulle U nie raaksien nie?

Hoe sal hulle sien dat U opstaan en u kinders troos?
Hulle leef dan ongetroos, volledig aan hulleself uitgelewer;
slagoffers van hul eie genadeloosheid – dit is ál wat hulle ken.

Maar óns ken U.
En ons weet hoe dit is wanneer U ons swaarkry vir u rekening neem,
wanneer U ons laste op u skouers tel en dit dra.
Ons het daaraan gewoond geraak om ons sorge aan U oor te gee
sodat u hand dit kan toevat, dit van ons af wegneem.
U sal daarmee maak soos U weet reg is
en op ’n tyd wat U reeds bepaal het.

Ons kan onsself nie help nie, Here,
en daarom is dit vir ons allertroostend
dat U óns – probleme en al – in u hande hou.

Soos U na weeskinders omsien,
só kyk U na ál u kinders.
So sien U almal raak –
ook die boosdoeners.
U moet húlle deeglik ondersoek,
vlek hul boosheid tot op die been toe oop
sodat daar nêrens meer vir hulle skuilplek is nie.
Jaag hulle rond, Here, hot en haar –
totdat hulle die pad vat!

U oor is na ons gedraai,
ons hart is gerus:
Ons het ’n tuiste by U.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.