Boodskap vir Vandag

Search

Dít weet ek

Lees Psalm 37:23-33.

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom (v 23).

Here, ek leer so baie.
Elke dag ontvang ek ’n nuwe les.
Dankie daarvoor!

Toe ek jonk was, was ek so buitengewoon slim.
So ingelig oor alles. So seker van my saak
en élke ander saak. Nou, jare later, weet ek
eintlik net één ding: Hoe klein ek is, en hoe min ek weet.

Ek het intussen wel geleer dat U sorg,
dat U ver bo verwagting voorsien.
Ek het geleer hoe afhanklik ek van U is –
nie net vir eet en drink en onderdak nie,
maar veral vir die rykdom van my gees.
Dat dit U is wat insig gee.
En deernis, en integriteit, en ’n toekomsvisie.

Dit is alles dinge wat ek nooit gehad het nie –
al het ek in my vroeëre, “slim” jare
my mond vrymoedig daaroor uitgespoel.
En nou, dag ná dag, leer U my dit.
Laat U my daarin groei.

Nou weet ek ten minste dat, ten spyte van die vele kere
wat ek sleg gestruikel het, U my nooit uit u hand laat val het nie.
Dat U hou wat U het. Ek weet dat die oorvloed wat ek nog altyd
geken het, nie selfvoldaan aan “harde werk” en “my welverdiende loon” toegeskryf kan word nie, maar dat alles ’n gawe uit u hand is.
En dat U my leer om nié te hou wat ek het nie,
maar om uit dié oorvloed te leef –
en daarvan uit te deel,
vir ander om te leef.

En ek weet dat U my elke dag seën
met kanse om met my woorde
en my dade
’n verskil te maak.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.