Lees Psalm 40:7-9.
Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê (v 7).
Here, as daar nou een ding is wat my onbekwaam
laat voel wanneer ek voor U staan, heeltemal dom,
is dit my onvermoë om behoorlik dankie te sê.
Die mense wat dooie gode aanhang, het vermoedelik
minder probleme hiermee. Hulle dóén dinge: slag ’n bok,
maak ’n vuur, bou ’n tempel, kasty hulleself, maak dissipels …
Maar ek weet nie regtig of my “liewe Vader, ek sê dankie”-liedjies
die paal haal nie. Dit is so … gewoon, so sonder seggingskrag.
En dawerende instrumente en funky lirieke en swaaiende arms
maak dit vir sommige (dalk) lekkerder, maar helaas nie juis beter nie.
Boonop het die geld wat ek afknyp om aan u saak te gee, my in die war.
Ek bedoel: Hoe bereken ’n mens dit? Die ding van sogenaamde “tiendes” is sekerlik uitgedien, of hoe, Here? (En is dit voor of ná aftrekkings?)
Wat ís daar te doen aan dankbaarheid, Here?
(Nou klink ek net soos die heidene – let op die “doen”.)
Maar U verstaan mos wat ek bedoel: Ek wil graag dankie sê
op ’n ander manier as met goedkoop, maklike woorde
of ’n afkoopbedrag(gie). Ek wil hê dat U sonder twyfel
weet dat ek my dankie-sê met my hele hart bedoel.
Hoe sê U? Hoor ek reg?
Gehoorsaamheid.
Is dit al? Om te doen wat U vra?
U vra nie dankoffers nie.
U vra nié my onoortuigende,
selfgesentreerde, dikwels lawwe liedjies nie.
Haai, Here!
U vra dat ek sal luister as U praat.
Dat ek sal gaan as U my stuur.
Dat ek na húlle sal gaan na wie U my stuur.
Gehoorsaamheid is my dankie?
Hére!
Amen.
Barend Vos