Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

My storie

Lees Psalm 40:10-11.

Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en u hulp. Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie (v 11).

Here, U weet mos ek is nie juis ’n prater nie.
Ek klap sommer toe as iemand my skielik ’n vraag vra.
En geeneen moet tog my onmiddellike mening soek
én ’n sinvolle reaksie verwag nie. Ek kon nog nooit
’n behoorlike toespraak maak nie.
Ek kan nie eens ’n grap vertel nie omdat ek dikwels
die trefreël vergeet – pure senuwees. Verhoogvrees.

As hiérdie mens-met-min-woorde dus in die gemeente
opstaan en vrymoedig vertel: “Die Here het my verlos!”
dan moet U weet hoe diep die dankbaarheid lê.

Ek hét hulle vertel, ja. En ek het geen vrome doekies
omgedraai nie – almal ken in elk geval reeds die storie.
Van die diep put waarin ek was, en hoe ek deur die genade
daar uitgekom het. Ek het hulle ingelig oor presies hoe diep
daardie gat was. En hoe ek daar uitgehaal is, en deur wié.

Daar was mense wat trane weggevee het
– ek was self nie juis dapper nie –
en daar was diegene wat my uitdrukkingloos aangehoor het.
Daar was dalk dié wat effens verleë was
oor my openlikheid – hulle ken my immers nie só nie.

Ek ken myself ook nie so nie, Here.
Ek praat mos nie.
My storie is nét myne.
Só was dit …

Maar U het my ’n nuwe lewe gegee
dié dag toe U my daar uitgetrek het.
Soos by ’n nuwe geboorte –
noudat ek weer daaroor dink.
Ek het ’n splinternuwe hart ontvang.

En waar hierdie hart van vol is,
loop die mond nou van oor.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.