Lees Psalm 41.
Dit weet ek: U het my lief, my vyand sal nie oor my triomfeer nie (v 12).
Here, hoe bitter is dit om te beleef hoe jy in die rug
gesteek word. Hoe juis hulle wat jou moet beskerm,
jou verraai. Dit maak seerder as seer …
“Verraai” is na sommige se oordeel seker ’n oordrywing
as jy “spot” bedoel – “straatpraatjies”, “fluisterstories” –
dié soort geskinder wat nie vir jou,
die onderwerp daarvan, se ore bedoel is nie.
Of is dit? Wil hulle, die praatjiesmakers,
nie dalk heimlik hê dat jy dit hoor nie,
dat jy presies weet wat hulle van jou dink nie?
Hoe dink U, Here?
Dit is dalk waarom dié soort stories altyd hulle weg
na jou toe vind. Sonder uitsondering daag iemand op
om jou “vertroulik” te kom inlig. Meewarig skud
die fluisteraar die kop en sê suutjies: “Mense, darem …”
Mák mense! wil jy dit dan uitskreeu.
Mense wat die waarheid weet, wat van beter behoort te weet.
Mense wat dikwels by jou kuier, wat hul hande in dieselfde
skottel as jy steek. “My vriende” noem jy hulle –
wanneer hulle binne hoorafstand is én wanneer hulle ver is.
En wat sê hulle oor jou?
Hulle sê: Klaarpraat. Kwessie van tyd.
Hulle sê: Tráp op hom!
O, en watter speletjie speel jý? wil jy
hom-wat-die-nuus-dra vra. Maar jy swyg – te bang
om nóg ’n vriend te verloor. Vriende is juis so skaars.
Ek het op die ou end net vir U.
Hou my regop, Here.
Hou my kop in u hande
sodat ek sonder skroom die wêreld en sy maat,
en vir U, in die oë kan kyk.
Amen.
Barend Vos