Boodskap vir Vandag

Search

Ek mis U

Lees Psalm 42:1-6.

Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God (v 2).

Ek hou my kop omhoog, Here.
Net U weet van die trane,
die teleurstelling, die desperaatheid.
Die verlange.

Verlange, ja, want ek mis … U.
Ek mis U en u huis. Die plek waar ek
nog altyd tuis was – wat nou, so voel dit my,
ver van my af is, onbereikbaar geword het.

Ag, Here, ek praat tog graag oor U.
Ek sê aan almal wat my pad kruis: “Here! Here!”
Maar meestal steur hulle hulle nie aan my nie
en dikwels lag hulle my uit: “Wáár is jou Here?”

Ek hou my kop omhoog, maar Ú sien my trane.

Dit was tog nie altyd só nie, Here!
Inteendeel, daar was ’n tyd toe ek volledig deel was
van ’n klómp mense wat sing-sing na u huis toe
opgetrek het. As ek reg onthou, het ek voorgeloop!
Daar is tog iéts aan ’n skare wat asof uit een mond
agter jou aan “halleluja!” roep. “Halleluja” en “amen”!
Die uitbundigheid, die tasbare afwagting, eendragtigheid.

Te gou is die aankoms daar,
te gou die fees verby …

Wat het nou daarvan geword?
Ek smag daarna, soos ’n mond na water
wanneer die lippe aan mekaar kleef.
Soos ’n dorstige dier na ’n borrelende fontein.

Ek hou my kop omhoog, en U sien my trane.

U sál my op ’n dag weer laat sing
op pad na die huis waar U woon …
Of hoe, Here?
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.