Boodskap vir Vandag

Search

Ons heel beste lied

Lees Psalm 47.

Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met ’n jubelende stem (v 2).

Ons weet, Here, dat ons U nie bloot
“die Man daarbo” kan noem nie.
Dat U nie woon op die plek waarheen
ons vaagweg en sommer met die oë
wys wanneer ons oor U praat nie.
U is baie nader as dít.

Maar hoe moet ons dan in mensetaal
na U verwys? Waarheen moet ons beduie?
Ons kan tog nie bloot sê: “God is hiér,”
en met die hand op die hart gaan staan nie?
U is veel verder as dít.

Wat kan ons doen wanneer ons na U verwys …
anders as om te sing? En dan nie bloot iets soos:
“Op berge en in dale, en oral is my God …
die kleinste wurmpie voed Hy,
sorg vir die groot heelal” nie.
U is immers veel meer as dít.

Ja, Here, ons heel beste lied oor U het ’n wankelende
wysie, en die woorde kom stotterend. Maar dit is dalk
die enigste wat ons kan doen wanneer ons u verhaal
met ons vertel. Sonder uitsondering huppel dit mos
tussen triomf en bygeloof, of verstom dit duskant begrip.

Daarom gooi ons soms hande in die lug
en roep: Wat kan ons van al hierdie dinge sê!
En presies hoe behoort ons oor U te sing?

Gee tog ú stem vir ons stamelende liedjie, Here!
Neem ons lomp hande en leer ons hoe om hulle
teen mekaar te klap. Só kan ons dit miskien waag
om iets oor U te sê. Op dié manier kan ons straks
na die Koning verwys. Dalk maak “oral” en “altyd”
en “magtig” en “meesterlik” dan meer en beter sin.

En hopelik heg dít meer gewig aan ons verwysings na U.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.