Boodskap vir Vandag

Search

Glansryke God!

Psalm 50:1-15.

Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste (v 14).

Here, ons God, hoe helder maak U die dag!
Hoe skitterblink is u verskyning,
hoe stralend u teenwoordigheid.

Hoe ontsagwekkend u stem
wanneer U dit verhef óf demp.
Die aarde en die hemel bewe
op u bevel; ons God is ’n verterende vuur.

U roep u kinders byeen – en ons sidder:
Wat het U teen ons? Hoe kan ons U antwoord?

Maar Here, u saak is eenvoudig: U wil nie ons offers hê nie.
Ons getrouste rituele voor U bied U nie bevrediging nie –
asof U by óns voldoening sou soek! U het ons dank
eerlikwaar nie nodig nie. U sê wel dat ons dit
moet betuig om beter te verstaan.
Want ons wil U tasbaar loof;
sien hoe ons eer die lug verkleur;
ons wil ons dank kan hoor, kan ruik.

Boonop het ons die begeerte om dit te wýs:
Kyk daar, julle! Sien julle, ek loof die Here!

Dit is die beste wat ons kan doen,
want alles wat ons aan U kan gee, ís U s’n.
Wanneer ons ons offers bring, gee ons bloot terug.

Maar só sê ons, op ons manier:
Loof die Here, want Hy is goed!
Die aarde behoort aan Hom,
en ék behoort aan Hom.
Hy hoor my as ek roep.
Hy red my voor ek vergaan.

Ja, loof die Here!
Glansryk staan sy Naam
teen sy hemel geskryf!
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.