Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kansvatter

Lees Psalm 50:16-23.

“Moet ek stil bly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!” (v 21).

Here, vergewe my die opportunisme
waaraan ek my skuldig maak.
Al die kansvattery.
Asof ek U kan bluf …

Dit is veral deesdae, Here, dat ek in seldsame eerlike
oomblikke agterkom hoe heerlik ek my tuisgemaak het
in skynsekerhede en selfbedrog. Dat ek my oë dig sluit
en tog met soveel vrome voorbeeldigheid my meelopers
voorgaan in eerbetoon en aanbidding. Sogenaamd.

Maar my godsvrug hou net tot die eerste
teken van teenstand. Of, verkieslik, die eerste
nuwe lokstem. Dan spring ek op daardie wa
en gee my oor aan die verleiding –
u voorskrifte en u verbond vergete.
En ek steur my nie juis aan u vermaning nie.

Ek soek twyfelagtige karakters op
en stem en praat en span met hulle saam.
Ek leen my ore aan bedenklikheid uit.
Ek hoor wat ek wil, lag saam met wie ek wil.
Dan sê ek wat ek wil, en oor wie ek wil.
My wil is die enigste wat ek gehoorsaam,
my begeertes die hoogste doel van my bestaan.

En deurentyd maak ek my brommende
gewete stil met dié ou drogredenasie:
God sal vergewe; dit is tog sy werk.

Só beledig ek U, Here. Ek het geriefshalwe vergeet
dat navolging duur is en dissipelskap ’n prys vra.
U wil gehoorsaamheid hê, en dankbaarheid vir alles
wat U vir my is. En opregtheid – om U in die oë te kyk.

En ek kan nie, Here. Nie meer nie.
Help my, asseblief. Verlos my
van myself.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.