Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ek weet dat U weet

Lees Psalm 51:1-8.

Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig (v 6).

Here, wat kan ek sê behalwe dat ek skaam is?
Bang om op te kyk na U.
Want U wéét.

Kan ek dan begin om só te vra:
Sal U dit net tussen óns hou, asseblief?
Ek weet nie wat ek sal doen as die hele wêreld
moet uitvind nie. Dit is erg genoeg dat U weet.
En dat ek dit uiteindelik aan myself erken het.
Sal ek darem nóú aan die slaap kan raak, Here?

Ek het die behoefte om al die dinge een vir een
teenoor U te noem. Om stap vir stap te beskryf
hoe dit gekom het. Maar wil U dit regtig hoor?
U weet dit mos …

Ag, hoor my as ek sê ek is bitter jammer;
glo my asseblief wanneer U sien
dat ek koponderstebo in u teenwoordigheid bly sit.
Ek sien regtig nie kans om U in die oë te kyk nie.

En ja, Here, hierdie keer is my trane eg –
dit is bittere berou wat só lyk.
En selfverwyt:
Ek moes van beter geweet het.
Trouens, ek hét geweet ek moenie …

Maar U weet mos hoe dit is – die een ding
lei tot die volgende. En dit word al hoe makliker
en makliker. Dit draai jou al hoe vaster en vaster.

Ek weet steeds nie hoe ek gaan loskom nie,
hoe ek my hiervan gaan bevry nie. Ek weet nie
wat dit nóg alles gaan vra om te kan ontsnap nie.

Bevry U my, Here! Maak my los! Maak gou, asseblief!
En vergewe my dan,
as U wil.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.