Lees Psalm 51:9-14.
Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien (v 14).
Here, dit moet verander
– ék moet verander –
en dit moes van die begin af
gebeur het soos U dit wou hê.
Maar ek volg mos my eie kop;
ek maak soos ek wil,
soos dit my pas en behaag.
En in plaas daarvan dat dit my bevredig
en die genot verskaf wat ek nagejaag het,
het dit my uiteindelik vir myself laat walg.
Lekker is selfs minder as ’n vinger lank,
en verwyt duur ’n leeftyd.
Kyk, hier lê ek nou,
Here, hier voor U.
My knieë opgetrek
soos een wat koud kry,
wat hom doodskaam.
Ek verlang na die dag dat U dit oor u hart
sal kry om weer by my te buk en aan my te vat …
Dat ek dit kan waag om my oë oop te maak.
Dat ek hier kan opstaan – gewas, gereinig,
dankbaar, jubelend omdat U klaarblyklik
my sondeskuld vergeet het, soos altyd.
Dat ek weer van voor af kan begin.
Hoe begeer ek dit, Here, om weer te kan lag.
Om U in die oë te kan kyk – en vir mense
te gaan vertel: “Weet julle hoe is Hy!”
Besef julle hoe sy grootheid Hom
toelaat om laag te buk sodat
Hy sy ou kleintjies
kan optel en
omhels?
Amen.
Barend Vos