Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hoor ’n bietjie hier!

Lees Psalm 51:15-21.

Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God (v 19).

Julle wat al voor die Here ineengekrimp
en voor Hom gaan lê het omdat julle
nie voor Hom kon regop staan nie;
julle almal wat julle oë by Hom
styf toegeknyp het omdat julle dit
nie wou waag om na Hom te kyk nie;
julle verflenterde skuldbeswaardes –
hoor ’n bietjie hier:
God is goed!

Hy is beter as wat julle gedink het.
Hy is gans anders, Hy is ’n verlosser!
Julle hoef nie sy aandag te probeer trek nie.
Dit is nie nodig dat julle Hom hoef sag te maak
of om te koop of op die een of ander wyse probeer
beïndruk nie. Hy stel regtig nie in jul offers belang nie.

Dit is vir Hom genoeg dat julle jammer is
oor wat julle gedoen het. Hy weet dat dit
meer is as spyt omdat julle in ’n strik geloop het,
en dat dit dieper vat as gewone kleinserigheid.
Hy sien sy kind se stukkende hart, die verslaentheid
oor die oerdrang na sonde, na selfsug en seermaak.
Dit is vanweë jou trane dat Hy buk om dit af te droog.
Sy hand uitsteek en sê: Staan maar op, my liewe kind!

Kyk, Hy het die beste medisyne vir gebrokenheid,
die regte salf vir jou stukkende siel.

Het julle gehoor, sondaars? Dan is ek bly!
Kan julle dit begryp, oortreders?
Nié …?

Toemaar, ook ek begryp nie die omvang
van sy vergifnis nie; ek verstaan daar niks van nie.
Daarom sal julle my bloot hoor prewel.
Dankie,
is al wat ek kan sê.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.