Lees Psalm 52:1-7.
Maar God sal jou vir altyd vernietig. Hy sal jou uitruk en wegsleep uit jou woonplek, Hy sal jou wegruk uit die land van die lewendes (v 7).
Here, vergewe my hierdie liefdelose belydenis:
As daar ’n spesie is wat my moeg maak,
is dit die wêreld se ware manne –
die superslimmes op die vergadering,
die immer-ingeligtes by elke gesprek,
die grootpraters om die vuur.
Die onwankelbare oortuigings,
die onweerlegbare uitsprake,
die stoere beginsels.
Die onboetvaardigheid, die stelligheid, die kragdadigheid:
Mag.
Manipuleer.
Misbruik.
En dit maak my bitter, Here, dat diesulkes ’n groot aanhang het.
Is mense dan so blind dat hulle nie deur hierdie manewales kan sien nie? So doof dat hulle nie kan hoor dat sulke bravade boos is nie?
Dat dit ’n vernietigende kiem dra, vrot vrugte voortbring nie?
Ek is jammer ek sê dít vir U:
Ek wens hulle weg, Here!
Want as ek hulle en hul soort nooit weer sien
en nooit weer hoef aan te hoor nie, is dit te gou.
Vergewe my as ek vra of U nie ook maar sal ophou
om hulle te verduur nie. Of U nie asseblief korte mette
met hulle sal maak nie. Hulle is mos daarvan oortuig
dat hulle U ook om die bos lei. Hulle dink die onskadelike
God is hulle goedgesind en die Here is hul handperdjie.
Hulle ken U nie.
Blus hul onheilige vuur, Here!
Trap op hul triomfantelikheid.
Skeur hul agendas op.
Maak hul kragdadigheid tot niet.
Minag hul “wáre manlikheid” só dat hulle dit weet.
Dat hulle sal weet U is God;
nie hulle nie.
Amen.
Barend Vos