Lees Psalm 53.
Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is ’n gruwel vir God. Daar is nie een wat goed doen nie (v 2).
Here, kan ’n mens by sy volle verstand
dwaas genoeg wees om te dink dat U
nie bestaan nie? Is U dan nie duidelik
sigbaar, hoorbaar, aan die werk nie?
Hoe dom, hoe buitengewoon eenvoudig is ons nie
as ons U nie herken vir wie U is nie? As ons nie erken
dat wat U doen so verrassend voor die hand liggend is nie?
Dwaasheid, waar is jou einde!
Ag, Here, en sekerlik die heel ergste van hierdie
stiksienigheid is dat dit nie ’n teoretiese saak is nie;
dit is elke dag in ons doen en late sigbaar, hoorbaar.
En niks wat ons doen en sê, hou rekening
met U en u wense vir ons lewe nie.
U het gewoon ophou bestaan
in ons mond en verstand,
in ons kop en ons hart,
ons hande en voete,
ons beplanning.
Ons dink U
dood.
Wonder U oor ons beweegredes?
Vra U dalk na ons motiewe?
Huil U as U na ons kyk?
Ek weet nie wat U dink nie. Al wat ek weet, is dat ook mý dade
besoedel is deur my denke. Dat my planne gevorm word
deur insigte wat op ontkenning berus. Lyk dwaasheid ook só?
Ag, en ek weet nie hoe ék dink nie. Al wat ek weet, is dat U nog altyd
hulle wat U doelbewus ontken het, aan die duisternis oorgelaat het.
Wil U mý nie nog ’n kans gee nie, Here?
Wil U nie, nogmaals, Uself vir my wys nie?
Wat maak U, en hoe lyk U?
Kyk, ek het dan nou selfs met U gepraat …
Amen.
Barend Vos