Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

My asem is op

Lees Psalm 54.

Red my deur u mag, o God, laat aan my reg geskied deur u krag (v 3).

Here, ek het eenvoudig nie meer die krag
om my verder deur moeilikheidmakers
te laat vermoei nie. Ek het al soveel tyd
aan hulle afgestaan –
gehaltetyd, wat ek gemors het deur onophoudelik
aan hulle te dink, hul motiewe te probeer uitpluis,
hul strategieë te probeer fnuik. Nou kan ek nie meer nie.
My asem is op.
Nou beroep ek my op U.
U kragdadige intrede is my enigste hoop.
En dit sal genoeg wees, Here –
u krag, u mag. Hulle ken U nie. Hulle weet nie
wat U doen nie. Hulle besef nie hoe hoog U
die lewe van u kinders ag nie. Hulle het geen idee wie U is nie.

Kyk, in hul verwysingsraamwerk is ’n god manipuleerbaar:
Jy het hom in die sak, jy dra hom rond. Jy haal hom bloot
daar uit as jy hom nodig kry – en dan hoop jy maar die beste:
Miskién sal hy …

Maar U is ’n lewende, allesoortreffende helper.
U hou u hand oor my lewe, oor my bestaan.
U keer die kwaad en die stigters daarvan weg –
áltyd,
en nou ook.
Veral noudat ek tot die dood toe moeg is
en sonder enige weerstand.
Nou vou u vingers my toe,
lig u hand my hoog, buite hul bereik.

En … eensklaps is hulle daar ver, en van minder belang.
Sies tog, ja, skadeloos.
Ek kyk op hulle neer – steeds ademloos.
Maar nou uit dankbaarheid, verwondering.

U grootheid verbyster my steeds.
U Naam is Redder.
Weergaloos.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.