Lees Psalm 55:1-6.
Luister na my gebed en antwoord my: my sorge gee my geen rus nie. Ek is hewig ontsteld (v 3).
Here, U sien hoe dwaal ek rond –
soek hier, krap daar,
probeer tot stilstand kom, wil ’n oomblik asemskep.
Ek kom nie tot rus nie.
Here, U weet ek slaap skaars –
rol rond, lê met oop oë,
staar na die donker dak, bly soek ’n teken van die dag.
Ek kry niks.
Here, ek word nie meer honger nie –
kos walg my, dit stoot op in my keel,
ek is naar van die reuk, pluk my kop weg soos ’n baba.
Ek eet nie.
Ag, Here, my hele liggaam ruk
soos dié van ’n mens wat koors het.
Ek bewe en dit hou nie op nie. Selfs my oë traan aanhoudend.
Maar ek huil nie.
Is dit vrees wat só voel? Is angs dan so allesoorweldigend?
Ek het altyd gedink vrees roep hard uit en angs skreeu en gil.
Nou het ek net hierdie bibberende begeerte om met U te praat.
Om na u kant te fluister, om dringend te vra, bewend te soebat:
Here, help!
Hoor U hoe bespreek hulle my, hoor U hoe beplan hulle?
Hulle beraam niks meer suutjies-suutjies nie;
hulle konkel lankal nie meer in donker kamertjies nie.
Hulle vergader nie meer met geslote deure nie;
hulle is vol selfvertroue, vreesloos, verwaand.
En ek? Ek met my angs?
Ek het net vir U.
Net U en u oor en die hoop op u besliste hand,
u onwankelbare trou, u onmiddellike ingrype:
Hoor my! Help my! Red my!
Amen.
Barend Vos