Lees Psalm 55:7-9.
Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ’n woonplek soek (v 7).
Here, gee my vlerke dat ek kan vlieg!
Vlug.
Wegkom van hulle wat so snuffelend na my soek,
wat my om elke hoek en draai,
met oopgesperde mond druppend van kwaad,
wil verskeur.
Laat my vrykom van die vermetelheid. Ek moet uitkom
onder die gespuug. Ontsnap aan die onverklaarbare waansin.
Here, gee my vlerke dat ek kan sweef!
Hoog.
Bokant die venyn, die kleindorpse naywer, die bekrompe
preutsheid wat soveel te sê het oor elkeen wat dit waag
om uit te styg.
Laat sien my ’n ander hoop. Ek moet anderkant verstikking
gaan asem soek, ’n lewe vind in ’n nuwe, sagte stilte.
Here, gun my ten minste die soeke na ’n skuilplek.
Ver.
Dat hulle my nooit kry nie. Dat hulle spoedig moed
opgee en ’n ander, nader prooi sal soek.
’n Nuwe teiken.
Uiteindelik sal hulle ophou praat oor my en my kort
daarna vergeet. Aanstons verdwyn hulle self straks ook.
Here, en wanneer ek met vlerkgeklap
fladderend koers kies na ’n veiliger oord –
laat my voorspoedig reis.
Laat die nuwe wind my begunstig,
laat die lug se strome my geluidloos voortneem
na die voorafbestemde plek.
En wanneer ek daar aanland, laat ek U daar vind.
Sodat ek op gepaste wyse, soos u engele,
aan U die eer kan bring. Dat ek eerbiedig
– met vlerke wat my oë bedek – kan uitroep:
Heilig, heilig, heilig,
Here, God almagtig!
Amen.
Barend Vos