Lees Psalm 56:1-7.
In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ’n blote mens aan my doen? (v 5).
Ag, Here, die probleem met veeleisende mense
is dat hulle so … wel, veeleisend is. Hulle vra
alles van jou. Jou goed én bloed. Liggaam én gees.
Hulle is knaend. Voortdurend op jou spoor.
As hulle boonop kwaadwillig is – op die loer
vir elke moontlike misstap sodat hulle kan kraai
van plesier en dit aan hul geesgenote kan uitwys
en jubel: “Sien julle, ek het julle mos gesê …”
– dán, Here, vreet dit aan jou menswees.
Daarom wil ek mooi vra dat U my genadig sal wees:
Hou die wag voor my mond asseblief wakker
en in sy pasoppens. Dit is mos in sulke tye
dat ek dinge kwytraak wat liefs tussen U
en my moes gebly het.
Hou my kop skoon, en hou die bloed wat so skielik
begin kook, se temperatuur onder beheer.
Sodat ek helder kan dink en verstandige
uitweë soek te midde van die benouende
benepenheid waarin dié mense gedy.
Hou my humorsin net-net onder die oppervlak
van my reaksie. Sodat ek wel binnepret kan hê,
maar tog nie oneerbiedig aan die lag sal raak
vir die versamelde verstandeloosheid wat my
doodernstig konfronteer én antwoorde eis nie.
En, groot asseblief, Here, hou my hande styf
in my broeksakke. Sodat ek nie in die versoeking
kom om vuis te maak of om met die vinger te wys
en sodoende die kwaad te vermenigvuldig nie.
Hou my denke en my woorde en my optrede waardig.
Sodat ten minste ú Naam en ú saak
ongeskonde hieruit kom.
Amen.
Barend Vos