Lees Psalm 56:8-14.
My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken (v 9).
Here, U weet ek is nie normaalweg
die huilerige soort nie.
Beslis nie in die openbaar nie.
Buiten dat ek verkies om agter ’n toe deur te treur,
is ek nie daarvan oortuig dat trane-op-straat
nié maar krokodiltrane is nie –
U weet, daardie soort waar jy tussen die druppels deur
loer of al die snikke darem indruk maak op dié wat dit moet sien …
En huil-as-manipulering is, soos alle oneerlikheid,
vals en uiteindelik teenproduktief.
Boonop maklik kenbaar vir wat dit is.
Daarom sê ek dankie dat U my tot vandag
toe nog daarvan weerhou het.
Voor U deug dit in elk geval nie.
Want U ken my trane, van altyd af.
U weet waar elkeen vandaan kom.
En U, van almal, weet waarheen dit gaan.
Daarom, dankie dat U my hart se seer
diep in u hart bêre. Dankie dat U my pyn
self voel en dit daarom sal onthou.
Dankie dat u liefde, wat nie boekhou van die kwaad nie,
tog ’n register het van u kinders se seer en swaar.
Só sien U sommer met die eerste oogopslag
hoe nodig ek U en u ingrype het:
Wanneer ek terugdeins van die venyn.
Wanneer dit agter my oë begin brand
en ek hard moet sluk om my seer, my onbegrip,
die vernedering terug te hou.
Wanneer u oop hand my moet omvou.
Sonder dat ek hoef te vra
en sonder dat U ’n motivering of verduideliking eis.
Soos nou.
Amen.
Barend Vos