Lees Psalm 57.
Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is (v 2).
Here, soms wil ek “time-out!” roep,
myself ’n blaaskans gun.
En dan by U gaan wag totdat alles verby is.
U sal vir my skuilplek hê, ek weet dit –
dit het mos al dikwels gebeur.
U weet dat ek vir baie dinge kans sien,
en dat my krag nog altyd bo verdenking was.
Maar soms raak dinge te veel,
en hou dit net te lank aan.
Dan roep ek: Here, Here! Kom help my!
Maak u arms vir my oop sodat ek daar
kan wegkruip. Stuur u leërskare uit die hemel
om my agtervolgers te stuit, om hulle te verjaag.
Om vir altyd met hulle af te reken.
Die boosheid is te veel vir my, Here
– U weet dat dinge deesdae
gans te vinnig té veel vir my word.
Hulle bekke hang die hele tyd oop,
slaggereed vir hul prooi, vir my.
Hul planne is gemaak,
die strikke is gestel,
hulle lê reg.
Ag, Here, en vandag het ek nie krag vir boosheid nie –
ek is te swak, te klein, te dom.
Só kom kruip ek nou by U in.
Beroep ek my op u gesante:
Stuur húlle tog, Here, om namens my te veg.
Intussen sal ek, terwyl ek knus by U skuil,
my gereed kry vir die musiek wat ek vir U wil maak.
Die lied wat ek sal speel sodat almal dit kan hoor.
Dit sal sing oor u liefde en u trou wat tot in die verste
ruimte reik. Wat wêrelde omspan en kontinente
koester, wat oor berge en seë sweef.
Wat ook vir my onder die vlerk het.
Amen.
Barend Vos