Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Verlos ons van die Bose

Lees Psalm 58.

Die mense sal sê: Daar is tóg ’n beloning vir die regverdige, daar is tóg ’n God wat reg op die aarde laat geskied! (v 12).

Here, wanneer het boosheid presies begin?
Of liewer: Wanneer het die boses se boosheid begin?
Daar is mense wat sê dit is aangeleerde gedrag;
ander is daarvan oortuig hulle word daarmee gebore.

Ek weet nie regtig nie; ek weet maar net – én U –
hoe dit lyk en voel om onder hulle deur te loop:
Hulle bedrieg op groot skaal; hul korrupsie
skaad ’n land en sy mense. Hulle steel van
die armes en eenvoudiges en bedink nuwe
planne om ook die ingeligtes om die bos te lei.
Hul gif werk stadig, maar dit is dodelik.

Nou sug almal: “Wie gaan hulle keer?
Daar is niks aan te doen nie. Ons sal dit maar aanvaar,
stilbly, maak of dit niks is nie, die beste hoop.”

Waar is die verstandiges onder die leiers?
Waar is dié wat hulle in die bek kan ruk?
Waar is God?

Waar ís U, Here?
Waarom talm U so?
U sien mos die onreg.
U hoor die hulpkrete.

Gryp dan in!
Gee ons weer hoop. Grawe hul graf, giet hulle uit soos water
wat in die sand verdwyn. Laat hulle wegwaai soos droë gras tussen stof. Lei ons net uit hierdie mislike moeras vol korrupsie, selfverryking, openlike diefstal, toesmeerdery, na ’n koninkryk waar U regeer.
Waar die werklike krag in liefde setel, waar milde medemenslikheid
en godsvrug sinoniem geword het – en dié heerlikheid vir altyd duur.

Ja, verlos ons van die Bose,
want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.