Lees Psalm 59:1-11.
Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting! (v 10).
Here, ek wil dit liefs nie buite waag nie.
Hulle wag my daar in.
Die slim, welmenende mense sê dit is bloot paranoia –
die ewige, irrasionele vrees dat ander jou wil leed aandoen.
Hulle wíl, Here!
Al het hulle geen werklike, wettige rede nie;
hulle is bloot die soort wat moeilikheid soek
wanneer hulle niks kan vind nie.
En rusie maak as niks na hul sin is nie.
Hulle is konflikskeppers én die getroue onderhouers daarvan.
Hul doel is om ’n prooi te vind …
En nou het hulle mý in die oog, Here.
Hulle maak jag op my.
Hulle wag my in, hulle lê my voor –
en ek weet nie hoekom nie.
My hande en gewete is tog skoon.
My optrede, ook teenoor hulle, is onbesproke.
Ek het nog nooit my mond oor hulle uitgespoel nie –
net Ú weet hoe ek oor hulle dink en voel.
Miskien, noudat ek weer daaroor dink, is dít dalk die rede:
my onskuld. My onafhanklikheid van hul gunste en gawes.
Hulle ken dit nie. Hulle weet nie wat om daarvan te dink
en hoe om dit te hanteer nie. Ek bly vir hulle ’n raaisel.
Ek dink eerlikwaar nie hulle sal dit ooit regkry
om anders teenoor my op te tree nie. Hulle ken
nét grom en gryp, hap en byt, insluk en uitspoeg.
Daarom bly ek liefs binne, Here.
Sal Ú na hulle toe gaan, asseblief?
Hulle gaan konfronteer?
Aan hulle sê U weet alles?
Hulle spottend uitlag?
Hulle summier wegjaag?
Sal U dan terugkom en my kom troos?
Amen.
Barend Vos