Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In u Naam

Lees Psalm 60.

Red ons deur u groot mag, en help ons, sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word (v 7).

O Here, as ons kla en kla oor ons land,
kan ons nie wegkom van die knaende
vermoede dat U u rug vir ons gedraai het nie.
Dat U besig is om ons te treiter, ons te laat betaal
vir ons vaders se oortredings –
en ons eie.

U sal meer as genoeg rede hê om dit te wil doen;
ons in eie munt terug te betaal.
Ons te straf.

Geslagte lank is in hierdie land mos loflike
lippediens aan U bewys; álles is in u Naam gedoen,
geopen, beplan, bereken, besluit, gestem, geskuif, gedryf.
En uiteindelik weer in u Naam plegtig
afgesluit.

Ons voornemens was so vroom, so vol van u Naam
wanneer ons verduidelik, rasionaliseer, vergoeilik.
Ja, ons het ons oë gereeld gesluit om te bid
en dikwels om liefs nie te sien nie.

Nou kla ons wat eens so oor alles gebid het,
oor alles, en wonder heimlik oor u grimmige rol.

Ag, Here, ons weet dit getuig van die opperste
verwaandheid om nou by U te kom eis dat U
ons sal begenadig. Dat U met ’n sterk hand kom ingryp.
Dat U ons, wankelend, sal ophef.
Dat U u Naam weer oor ons sal uitroep.

Ons het U geen rede gegee om dit te wil doen nie.

Hoor ons nietemin pleit
dat die dag spoedig sal aanbreek
dat U ons tog as u naamgenote sal aanneem.
Dat U ons weer “geliefdes” sal noem.
En dalk “my kinders”.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.