Lees Psalm 61.
Laat my by U ’n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels (v 5).
Here, dit is tog ironies:
Dikwels voel U ver van my af,
so onmeetlik, onbereikbaar ver …
Maar wanneer ek roep,
roep ek na U.
Asof U net hier om die hoek staan en wag op u kinders
se noodroepe, wense, begeertes, opdragte, vrae.
Meestal pas dit ons as U ver is,
dat ons nie aan U hoef te dink of U in ag moet neem nie.
Om verkieslik ons eie pad te loop, ons eie kop te volg.
Totdat ons in ’n noute beland, wanneer ons ons vasgeloop
en ópgedink het en daar geen uitweg is nie, dan …
Dán roep ons: Here, hoor tog!
Here, luister aandagtig na my!
Laat ek dit nou sommer reguit sê,
hier, in my oomblik van swakheid:
Ek kan nie sonder U nie. Ek kan dit
nie bekostig dat U ver van my af bly nie.
Trouens, U moet asseblief nóg nader
aan my kom. U moet U kom opdring aan my,
my nie ’n oomblik se rus gee nie.
U moet my dwing om altyd na U op te kyk.
Bind my styf vas aan U en hou my gevange.
En terwyl ek nou so rondborstig aan ’t bely
(en vra!) is, hoor tog ook dié: Ek is jammer, Here,
dat ek U net as noodmaatreël ken.
Dat ek U net inroep as ek in die moeilikheid is.
Wanneer my gesondheid pla, en ek U soebat
om genesing en om my nog lank te spaar.
Vat my tog nou, Here, bagasie en al.
Gooi die deure oop en laat my intrek
by U.
Amen.
Barend Vos