Lees Psalm 62:1-9.
Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek (v 6).
Here, partykeer is ek so moeg wanneer ek my oë sluit
om stil te word en met U te praat, dat ek aan die slaap raak.
Ek kan dit nie verhelp nie. Ek is jammer, Here.
Dit is nie oneerbiedigheid nie, dit is net …
hierdie lewe. Die gehardloop, alles wat my so jaag.
Die mense. Hulle het geen genade nie,
hulle hou nooit op om my te probeer breek nie.
Hulle trek my af, hulle wil my onderkry.
Hulle hou eenvoudig nie op nie.
Wanneer ek dan in ’n onverwagte, genadige oomblik
die kans kry om asem te skep, en ’n paar minute
kan stilsit, wil ek net eers dankie sê. Vinnig,
voordat die oomblik verstryk.
Maar as ek my kom kry, word ek wakker –
dan kom ek agter dat ek aan die slaap geraak het.
Dat ek toe nooit by dankie-sê uitgekom het nie.
Is dit verkeerd om by U te kom … rus, Here?
Sonder ’n enkele woord? Sonder verduideliking
of verskoning – net kom slaap?
Moes ek eers u toestemming vir hierdie vrymoedigheid
gevra het? Vir my onverskrokke vermetelheid?
Ag, Here, my rots, my verlossing, my toevlugsoord –
is daar ’n báie groot verskil tussen wegkruip en inkruip?
Kyk, ek dink só: Ek kom skuil mos altyd by U.
Wanneer die boosdoeners my voor hulle uit dryf,
jaag dit my in u arms in. Dáár vind ek my asem terug,
laat sak ek my skanse, voel ek veilig.
Kantel ek my kop op u skouer.
Maak ek my oë toe.
Vind ek uiteindelik rus …
By U slaap ek vas.
Amen.
Barend Vos