Lees Psalm 62:10-13.
Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks (v 10).
Ewige Here, hoe effentjies is ons tog nie!
Hoe eenvoudig, hoe kortstondig, hoe veerlig.
Sou U net liggies blaas, waai ons weg in die stormwind.
Stort U ’n enkele traan, verdrink ons in die vloed.
Ons hou ons groot.
Ons verbeel ons ons is belangrik.
Ons dink ons is besonder invloedryk,
ons doen en late swaar aan betekenis;
ons woorde wáárlik en ons werk weergaloos.
Dit is alles ’n illusie. ’n Hersenskim. Soete selfbedrog,
deur motiveringsprekers aan ons afgesmeer sodat ons
beter oor onsself kan voel. Ons gewaande gewigtigheid
is willose spoelklippies, ons deurlugtigheid dryfsand.
Ons geleerde gesprekke is praatjies vir die vaak,
ons uitgesproke wysheid waardeloos.
Selfs ons erewoord dra geen gewig nie.
Dit is seker daarom, Here, dat ons ons so tuis voel
by geld, bankrekenings, aandelesertifikate,
uitgereikte effekte en ander papierligte skatte.
Motgevreet, gemuf en brandgevaarlik
fladder hulle saam met ons rond,
en waai uiteindelik saam met ons weg.
Vergewe ons, Here, die aanmatigheid. Die hovaardigheid.
Die hoogvlieg-waan waarin ons lewe. Die borrel wat ons self
geskep het en wat ons so naarstig in stand hou. Vergewe ons
die vermetelheid waarmee ons keer op keer na U toe hardloop
om te kom soebat dat U ons opgeblasenheid sal seën. Dat U
die dunk wat ons van onsself het, verder sal aanwakker.
Leer ons opnuut oor u krag. Wys ons u ewige mag.
Wysig ons hartsbegeerte van “allesoortreffend” en “ware wenner”
na ’n volgehoue, vrolike viering
van ons nietigheid in die helder lig
wat van God af straal.
Amen.
Barend Vos