Lees Psalm 63.
U is vir my ’n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels (v 8).
Here, liewe Here, wanneer hierdie lewe en sy mense
meedoënloos met my omgaan, troos ek my gereeld
aan dié genadige lewensfeit: Ook dít sal verbygaan!
Woestyntye is dus bloot tydelik –
en terwyl ek my daar bevind, word ek
aan die lewe gehou deur die drome wat ek koester,
die voorlopige uitsig op wat sonder twyfel voorlê.
Dit wat deur U vir my weggelê is.
Gebêre word, met my naam reeds daarop aangebring,
onuitwisbaar.
Daarom wil ek nou reeds sê: Dankie, Here!
Dankie by voorbaat. As ek eers hier uit is,
sal ek my dank behoorlik bring, dit uitsing
in u huis – daar waar almal dit kan hoor.
En saam met my mond sal my hande beduie
hoe diep en wyd en ver my lof strek.
Maar die dag is gans te kort om reg te laat geskied
aan alles wat ek wil sê – en buitendien is álles
darem nie vir almal se ore bedoel nie!
Daarom wag ek ook snags op U,
in my alleenheid
– met my maskertjie afgehaal –
om U eerlik in te lig presies waarvoor ek alles dankbaar is.
Hoe U my gehelp het om die uiterste verleentheid vry te spring.
Ek kan eerstehands getuig hoe U
my met u hande toegedek het.
Terwyl dié wat daarop uit was
om my leed aan te doen,
bedroë uitgekom het.
Wanneer die Here uiteindelik sy rug
vir leuenaars draai, skrik dié wat dit sien.
Dan sal ék hulle van u hande begin vertel …
Amen.
Barend Vos