Lees Psalm 64.
Met groot ontsag getuig almal dan van die dade van God omdat hulle insig gekry het in wat Hy doen (v 10).
Here, dit is dikwels die onverwagte dinge
wat na my geslinger word wat my die kwaaiste verwond:
Daardie skielike kwetswoord van iemand van wie ek dit
allermins verwag het, en op ’n tyd en by ’n geleentheid
waar ek totaal onvoorbereid daarop was.
Niks minder nie as ’n betrekhou.
Die vernedering is groot, Here.
Soos die ontnugtering.
So ’n blatante vry-sê is soos vuil spel voor ’n vol pawiljoen –
almal sien dit en verlekker hulle daarin. Klap hande, jil.
En jy probeer jou handhaaf; jy wil hulle
in eie munt terugbetaal, maar jy kan eenvoudig nie.
Hoe klop jy iemand op sy tuisveld?
Hoe wen jy ’n teenstander in ’n spel waarin hy meer bedrewe is?
Daar is geen manier om dit reg te kry nie
anders as om terug te staan,
en die houe voorlopig maar te vat …
Later, omdat jy geen keuse het nie,
roep jy hulp van buite af in –
hulp van Buite.
Van Bo.
Dít betrap hulle onkant – daarop was hulle
nie voorberei nie. Hulle het natuurlik nooit
daaraan gedink dat hul plannetjies in hul gesig
sou ontplof nie. Dat hulle op dié manier in eie munt
terugbetaal sou word nie. Gou speel U met hulle klaar!
En eensklaps kry die gejuig uit die pawiljoen
’n ander toon – daar is nou bewondering by,
’n gesamentlike intrek van die asem, ontsag.
Ja, skielik is dit ’n bitter ongelyke stryd:
God laat nie aan sy kinders slaan nie.
En Hy laat nie met Hom speel nie.
Amen.
Barend Vos