Lees Psalm 65:1-5.
Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet, die goeie dinge in u heilige woning (v 5).
Here, ek weet dit is onmoontlik om U vas te pen.
Om U te probeer inkamp, is belaglik.
Die blote gedagte daaraan te gek vir woorde.
U heerskappy strek oor u heelal.
U heilige teenwoordigheid is te sien
in talle wonderbaarlike verskynings –
en is volledig verberg. Soos U dit wil.
Durf ek dan maar sê, Here, dat die enigste plek
waar ek my iets van U kan indink, ’n gebou is?
“Die Here se huis” word dit soms genoem –
dié vier mure teen die wêreld se skraal wind.
Daar bevind ek my meermale in my weerlose dae –
tye wanneer siekte en dood en vrees en halsstarrige
bygeloof my besoek. Wanneer hulle saamspan
met sondeskuld en kom nesskop in my blootgesteldheid.
Dan vlug ek daarheen, Here –
na u huis, by voorbaat uitasem. Vervaard hardloop ek
en kry halsoorkop my sit. My hoof buig asof vanself
in ’n gebaar wat veel meer as ’n gewoonte geword het.
Nou is dit ’n stille erkenning van hierdie heilige grond.
Dan praat ek.
Eintlik gebeur dit só:
Daar maal só ’n klomp stemme in my kop
dat ek hulle eers moet stil luister.
En dan, nadat hulle uitgewoed is,
begin ék praat – saggies, prewelend,
dalk ’n bietjie onsamehangend ook.
Maar U hoor my goed. Want U wat oral is,
is ook hier in dié huis waar ek tuisgekom het.
U plek is my plek. Hier gaan sit ek gemaklik.
En deesdae gereeld.
Amen.
Barend Vos