Boodskap vir Vandag

Search

Klein begrip

Lees Psalm 65:6-14.

In u trou antwoord U ons met kragtige dade, o God, ons Verlosser, op wie ook die mense in afgeleë lande en op verre seë vertrou (v 6).

Here, dit is ons voorreg om te weet dat die reën nie
vanuit die noorde, suide of die noordweste kom nie.
Dat ons nie aan weerstelsels – laagdruk, fronte of hoogdruk –
uitgelewer is nie, en dat die heersende winde nie oor ons baasspeel nie.

Ons is bloot die bakhandkleuters, onkundig
– sommige sal sê “naïef, sies tog” –
wat onder die oop hemelsluise staan en verwonderd opkyk
en sê dat almal dit kan hoor: “Dit kom deur die genade van Bo …”

Maar dit is hierdie genade, Here, wat maak
dat ons nie oorweldig word deur die presiese afmetings
– of dan die onmeetlikheid, die grondige onpeilbaarheid –
van die “eindes van die aarde” nie.
Dat ons kop nie hoef te duisel oor die millennia
wat reeds verloop het wanneer ons die berge bekyk
of dit op die oop see waag nie.
Dat ons bloot kan bely:
“Ek glo in die Skepper …”

Dit is op grond van hierdie geloof wat U in ons ingeskape het
dat ons die natuur se godswonders aan ander kan uitwys.
Dit self kan geniet, versorg, beskerm en oor die algemeen
verantwoordelikheid daarvoor aanvaar –
soos dit by begenadigdes hoort.
Dat ons die opbrengs uit die oes met ope arms
kan ontvang en daaroor uitroep:
“Dankie, Here, vir die gawes uit u hand!”

Dit is hierdie hand, Here, wat my vashou en koester.
Wat my nooit laat los nie – al wriemel en woel ek hoe! –
omdat ek dié skeiding nooit sal oorleef nie.
Wat my laat sing:
“Genade, onbeskryflik groot!”

Dit is hierdie groot genade, Here,
waarvan ek so onbeskryflik lekker leef.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.