Lees Psalm 66:1-12.
Alle mense moet voor U buig, hulle moet sing tot u eer, hulle moet sing tot eer van u Naam (v 4).
Here, u mag is daar vir almal om te sien.
Ook vir dié wat dit nie wil sien nie,
nie daarin belangstel nie,
dit nie wil glo nie
of dalk daardeur bedreig word.
Maar ons wat aan die ontvangkant daarvan is,
wys dit graag uit – aan enigeen, aan almal:
“Kyk!” beduie ons, “dáár het die Here ons gehelp.
Só,” vertel ons, “het Hy aan ons gedoen.
Dit is sy wil dat ons is waar ons is.
Sy genade dat ons is wie ons is.”
Ons praat graag
oor ons geskiedenis met U.
Ons roem ons
op u beslissende optrede, destyds.
“Onontkenbaar,” sê ons dan,
“was dit sý ingryping wat aan ons
die oorwinning, die hoop gegee het.”
Nie dat alles altyd so maklik gekom het nie,
hoor! Ons was immers ook aan die verkeerde
kant van sy woede. Ons is deur bitter tye,
ons het erge ontberings verduur.
Maar ons is daardeur …
Dit is alles u werk, Here –
die loutering én die ontferming.
Só wys U die gesag wat U oor ons het,
en die deernis vir ons verwondbaarheid.
Ons sal hierdie storie in enige geselskap ophaal.
En oral waar ons gaan, sal ons dié refrein sing-sing herhaal:
“Kom, dank nou almal God met hart en mond en hande;
loof Hom wat wonders doen tot in die verste lande.
Van vroeg, van kindsbeen af, het Hy ons trou bewaar
en tot vandag toe nog geseën en gespaar.”
Amen.
Barend Vos