Lees Psalm 66:13-20.
Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds ’n loflied op my lippe (v 17).
Here, U weet mos hoe gou ons is met ons beloftes –
en hoe traag met die uitvoering daarvan.
Dit is immers maklik om énigiets te belowe,
veral as jy in die nood is,
maar wanneer die ergste moeilikheid
eers verby is, dan … dink jy ’n tweede keer
en verwens jou haastige mond.
U raak sekerlik moeg vir ons gesmeek en ons skreiende versuim
om dankie te sê. Wie kan U kwalik neem as U nie na ons wil
luister nie, anderpad kyk, u ore toedruk wanneer ons
desperaat u aandag wil trek?
Help U hulle wat alle krediet vir ’n goeie uitkoms self opeis?
Help U hulle wat herhaaldelik en met soveel stelligheid sê:
“Ek het myself gehelp!”?
En ai, Here, die “hulle” hierbo,
die “jy”, die “ons” – dit is ons almal … ook ek.
Veral ek.
U weet mos ek praat van myself.
U weet ek skaam my oor die talle kere dat ek
in my benoudheid geroep het: Here, Here, help!
En dan gou byvoeg wat ek alles in ruil sal doen.
Dan help U – soos ek gevra het.
En ek? Ek sal later daaraan aandag gee.
Wanneer ek tyd het. Wanneer ek die krag daarvoor het.
En U weet ek het nooit tyd nie, en my kragte is gedurig
nodig vir nuwe “ek”-projekte.
Dit alles gaan nou anders wees.
Ek gaan van nou af dankie sê waar almal dit kan hoor en sien.
Ek gaan my skatpligtigheid teenoor U in die openbaar erken,
en voor almal – hoorbaar, sigbaar, tasbaar – my dankoffer bring.
Maak dit ’n nuwe gewoonte, Here!
Maak dankie tog ’n lewenswyse.
Amen.
Barend Vos