Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

U ander kinders

Lees Psalm 67.

Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! (v 4).

Here, ons vergeet so dikwels dat U nóg kinders het –
oor u aarde in gehuggies en pondokke versprei,
en welvarende voorstede en iewers op ’n middestadse
sypaadjie, en dalk in ’n troostelose ry voor ’n kliniek.

Dat hulle u eiendom is, soos ons,
en dat U hulle ook gekies het, soos vir ons.
Dat hulle met U praat, soos ons,
al is dit in ’n taal wat ons nie verstaan nie.
Dat hul nood voor U gelykwaardig is aan ons s’n,
en dat U dikwels eers vir hulle help en dán vir ons.

Hulle sê ook: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?”
Hulle ken U as hul verlosser, hul rots, hul skuilplek.
Hulle bely die geloof in ’n God wat weduwees en wese
versorg, wat omgee vir verstotelinge en vreemdelinge.
(Vreemd, tog, dat óns vir hulle daardie vreemdelinge is!)

Here, herinner my gereeld daaraan
dat my ou wêreldjie
beknop en dikwels benoud is.
Dat my nadenke oor die lewe voor U
enkelvoudig en simplisties is.
Dat my begrip van u ingryping en bemoeienis
altyd ’n plaaslike geur het.
Dat my alte maklike gebruik van “ons” en “hulle”
dikwels meerderwaardigheid wys –
neerbuigend is en eiegeregtig.
En feitlik nooit in die kol nie.

Hoor my vandag, Here, as ek sê dat ek my verheug
oor my broers en susters wat U anders
en in ’n ander taal
en met ander rituele
en by ’n ander Naam
aanbid as ek.

Ons almal sê: “Grote God, aan U die eer!”
Amen.

Barend vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.