Lees Psalm 68:1-7.
As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, en dié wat Hom haat, vlug vir Hom (v 2).
Here, wanneer U ingryp
is daar geen wegkruipplek vir goddeloses nie.
Hulle leer vinnig – en daarom gee hulle haastig pad.
Hulle was baie dapper toe hulle gedink het niemand sien
hul vergrype nie. Hulle hou mos nie rekening met U nie.
Hulle begryp nie hoe U werk nie. Hulle weet niks van U af nie –
tot hul skande en hul ewige skade.
Hul knoeiery het toe nie ongesiens verbygegaan nie.
Hul noukeurige plannetjies – daardie sluwe skematjies –
was toe nie so waterdig soos hulle gedink het nie.
Toe U op hulle skree, het alles blitsig gesink.
Sonder rimpeling verdwyn.
En hulle?
Die magtiges? Die manne van naam?
Skoonveld.
Al wat nou gehoor kan word, is die gesing van u kinders.
Kyk hoe dans hulle in die strate, Here!
Hoor die gelag, die gejubel, hoor hoe korswel hulle met mekaar.
Kort-kort sal een uitroep: “Halleluja!” – en dan val almal daarby in.
Hulle sing die ou bekende liedere; hulle maak sommer nuwes ook op.
Almal het die een refrein: God is groot! God is goed!
U is groot, Here, en U is goed vir ons.
Hoor hoe prys ons u Naam!
U is alles vir ons; buiten U
is daar niks wat ons begeer nie.
U sien om na ons in ons geringheid,
U koester ons in ons broosheid,
U sorg vir ons in ons behoeftigheid,
U bring ons na ’n nuwe woonplek.
En hulle?
Die magtiges? Die manne van naam?
Troosteloos.
En sonder tuiste.
Amen.
Barend Vos